ʼn
POT VOL LEWE
Dis ʼn lieflike somer oggend. Ek draf vinnig by die kwekery in om ʼn kliënt se vetplante bestelling op te laai. Die pragtige groen spekboompies trek my aandag en ek fluit vir Marius om ʼn ekstra een te laai vir my tuintjie. Later die middag is my spekboompie egter iets van die verlede. Een van die werkers het die kan diesel agter op die trokkie oopgelos en die diesel het bo-oor die spekboompie gespat. Haar blaartjies het reeds begin verkleur en die grond is pap-nat van die diesel. Vies, sommer baie vies sit ek die vernielde spekboompie agter die Wendy huis waar ek haar later sal weggooi.
Dis twee weke later. Ek soek na die blou gieter, en loer agter die Wendy huis in. My mond val oop. ʼn Klein stukkie van die dooie, diesel-deurdrenkte spekboompie, het oorleef! Ek tel die potjie op en kyk na die natuurwonder. Net een takkie van die spekboompie het gras groen gebly en is besig om nuwe blaartjies te stoot. Ek vat onmiddellik die snoeiskêr, knip die gesonde takkie af, maak ʼn pot vol kompos, gooi ʼn miswurm en ʼn ekstra erdwurm in vir geluk en plant die takkie. As hierdie plantjie so graag wil leef, verdien sy ekstra liefde en aandag.
Sommer so op my knieë, voor die blompot, dink ek aan die vrouens wat my omring. Baie van ons oorleef ten spyte van die diesel wat soms op ons gemors word. Ons klou vas, hou uit, stoot selfs nuwe blare in doodgaan tye. Al is die grond waar ons geplant is dood en sonder enige waarde, bly ons groen en lewendig, net soos hierdie spekboompie.
No comments:
Post a Comment
Add comments here