Die Britse natuurkundige, Alfred Wallace (familie van William?), het op ‘n
dag ‘n kokon van die pou oog-mot opgetel en besluit om dit huis toe te neem
omdat hy graag wou sien hoe die mot uit die kokon sou kom. Hy het gesien hoe die
mot sukkel en sukkel om sy lyf by die nouerige nek van die peervormige kokon
uit te forseer. Ten einde laaste het hy die mot só jammer gekry dat hy ‘n mes
geneem het en die nek van die kokon versigtig oopgesny het.
Die mot het toe maklik losgekom, maar in die proses met ‘n geswolle lyf en
verskrompelde vlerke verskyn. Wallace het verwag dat die mot se lyf mettertyd
kleiner sou word en dat die vlerke sou groei. Dit het nie gebeur nie.
Die mot kon glad nie vlieg nie en het vir ‘n paar dae moedig “toon geklap”
en toe doodgegaan. Hierdie goedhartige en welmenende mot-redder het nie
verstaan nie dat die mot se worsteling om deur die nou, peervormige nek van die
kokon te kom, juis die natuur se manier is om vloeistof vanuit die liggaam in
die vlerke in te kanaliseer sodat die mot gereed kan wees om te vlieg as hy
homself uiteindelik uit die kokon gewriemel het.
Die mot se vryheid en vermoë om te kan vlieg is as te ware afhanklik van
hierdie tydperk van worsteling en swaarkry. Dit is juis die swaarkry en worsteling
wat die vlug moontlik maak. Die mot-redder se goedhartigheid het die mot nou
wel op die korttermyn van sy worsteling gespaar, maar op die langtermyn sy dood
tot gevolg gehad.
Twee waarnemings.
Is hierdie, ek wil dit die pou oog-mot sindroom noem, nie stellig die
grootste uitdaging van ouerskap nie? Ons kinders bevind hulleself daagliks en
in verskillende situasies in sulke peervormige kokonne waaruit hulle hulself
met deursettingsvermoë moet worstel. Om in die nek van die kokon vas te sit is
egter nie maklik of lekker nie en die verhaal wat hulle trane vertel van pyn,
ontnugtering, teleurstelling en verwerping, bevestig dit.
‘n Mens se eerste instink as ouer is om die kokon se nek groter te sny
sodat Boeta of Sussa sonder enige gesukkel daar kan uitkom. Ons gaan uit ons
pad uit om dit vir hulle so maklik as moontlik te maak. En in die proses leer
Boeta en Sussa nooit om verantwoordelikheid te neem vir hulle keuses nie, hulle
leer nooit dat keuses gevolge het nie, hulle leer nie die waarde van “wag” nie,
hulle leer nie hoe om die seerkry van die lewe te hanteer en te oorleef nie,
want, pappa en mamma sny die kokon telkens te gou oop.
Gary Thomas skryf in sy boek Sacred Parenting dat ‘n ouer se seerste
seer dikwels ‘n kind se belangrikste seer is. Dit is só absoluut waar. Dit
breek my hart om my eie kinders ongelukkig te sien wanneer hulle met die
realiteit van die lewe moet worstel, maar ek het begin besef dat ek óf die
korttermyn oplossing van kokon-bevryding moet kies, of, die langtermyn vlerk-ontwikkelingsprojek.
Dit is die een of die ander. Maar ongelukkig is hulle nie beskikbaar om saam
gekies te word nie.
Tweedens. Die dinge waarmee ons elkeen soms worstel, die hartseer, die pyn,
die dinge wat net nie wil uitwerk nie, is dikwels aanduidend daarvan dat ons ‘n
bietjie in die nek van ‘n spesifieke kokon “vassit”. Het jy al daaraan gedink
dat die doel daarmee nie is om jou net te laat swaarkry nie, maar eerder om jou
vlerke te ontwikkel sodat jy, sodra jy daarvan vrygebreek het, kan vlieg? God is
besig om jou vlerke sterk te maak, daar in die nek van die kokon, omdat Hy ‘n
ongelooflike vlugplan vir jou lewe in gedagte het.
Mag jy vandag die alomteenwoordigheid van God in jou kokon ervaar en mag jy
elke dag ervaar hoe jou vlerke sterker word.
Skrywer onbekend
“OUERSKAP IS NIE MAKLIK NIE.”
No comments:
Post a Comment
Add comments here